Antieke Egipte was die beskawing aan die Nylrivier, waar die hedendaagse Egipte lê, tussen omstreeks 3100 v.C. en die verowering van Egipte deur Alexander die Grote in 332 v.C. Dit was een van die wêreld se ses beskawings wat in die 31ste eeu v.C. onafhanklik ontstaan het,[1] en wel ná die vereniging van Bo- en Benede-Egipte onder die eerste farao.[2] Die geskiedenis van Antieke Egipte strek oor 'n paar stabiele koninkryke: die Ou Ryk van die Vroeë Bronstydperk, die Middelryk van die Middel-Bronstydperk en die Nuwe Ryk van die Laat Bronstydperk. Hulle is afgewissel met tydperke van relatiewe onstabiliteit wat die "Oorgangstydperke" genoem word.
Egipte het die hoogtepunt van sy mag tydens die Nuwe Ryk bereik, in die tyd van die Ramses-farao's, toe dit net so sterk soos die Hetitiese, Assiriese en Mitanni-ryk was. Daarna het dit geleidelik verswak. Egipte is in die Derde Oorgangstydperk en die Laat Tydperk deur verskeie ander volke binnegeval of verower, soos die Kanaäniete/Hyksos, Libië, Nubië, Assirië, Babilonië en Antieke Griekeland. Ná die dood van Alexander die Grote het een van sy generaals, Ptolemeus Soter, hom as heerser van Egipte gevestig. Dié Griekse Ptolemeïese Dinastie het tot 30 v.C. oor Egipte regeer, toe dit onder Cleopatra deur die Romeinse Ryk verower is en 'n Romeinse provinsie geword het.[3]
Die sukses van die Antieke Egiptiese beskawing is deels te danke aan die land se vermoë om by die toestande van die Nylriviervallei aan te pas. Die voorspelbare oorstromings en beheerde besproeiing van die vrugbare vallei het groot oeste tot gevolg gehad, en dit het weer gelei tot 'n digter bevolking, sosiale ontwikkeling en uitgebreide kultuur. Met ekstra bronne tot sy beskikking kon die regering hom wend tot mineraalontginning in die vallei en omringende woestynstreke, en dit het ook die ontwikkeling van 'n vroeë skryfstelsel, die organisering van kollektiewe bouwerk en landbouprojekte, handel met ander streke en die opbou van 'n militêre mag moontlik gemaak. Dit alles was onder beheer van farao's met behulp van 'n uitgebreide godsdiensstelsel.[4][5]
Onder die baie prestasies van Antieke Egipte was 'n stelsel wat die bou van enorme piramides, tempel en obeliske moontlik gemaak het, asook 'n wiskundestelsel, 'n praktiese en doeltreffende medisynestelsel, besproeiing- en landboustelsels, die eerste bekende skepe,[6] glastegnologie, nuwe vorme van letterkunde en die eerste bekende vredesverdrag (met die Hetiete).[7]
Antieke Egipte het 'n blywende nalatenskap gehad. Sy kuns en argitektuur is wyd nageboots en sy oudhede is tot in al die uithoeke van die aarde versprei. Sy monumentale ruïnes inspireer reisigers en skrywers al eeue lank. 'n Nuutgevonde respek vir oudhede en uitgrawings in die vroeë moderne tyd het gelei tot Egiptologie (die wetenskaplike ondersoek van die Antieke Egiptiese beskawing) en 'n groter waardering vir sy kulturele nalatenskap.[8]